Antjie

Antjie

Wednesday 22 October 2014

Bull Terriers -"The most beautiful ugly dogs on the planet"

Hulle sê daar is honde en daar is Bull Terriers…..
Nou ja – ek wou my lewe lank nog ‘n varkhond hê – waarom weet ek nie, want heimlik was ek ook maar lugtig vir die “gevreedse” Chinadogs met hul berugte kakebene wat glo sluit as hulle jou in die hande kry!

Na heelwat gekerm en uit radeloosheid het Manlief en kinders dit toe goed gedink om verlede jaar vir my verjaarsdag een te gee. My wens was ‘n witte met ‘n patch op die een oog. Opreggeteeld!

Ek het toe intussen vir my ‘n boek oor bullies aangeskaf en na ek dit deeglik deurgelees het, so by myself besluit – miskien is ‘n bullie nie vir my nie! Ek onthou een gedeelte uit die boek (wat intussen die BULLIE BYBEL gedoop is) baie goed.

“So you want a Bull Terrier? Do you want a dog that is playful, active, curious, quirky, clownish, sensitive, loyal, affectionate and attached to his owner? Before you scream out yes, you must further consider these things: do you want a dog that is stubborn, willful, overconfident, aggressive, bossy, dominant and destructive? Now you’re not so sure?” (BULL TERRIER deur BETHANY GIBSON)

Wel, vandag – presies ‘n jaar gelede het die nuwe baba toe gearriveer! En na ‘n jaar van – amper sê ek hel – kan ek bogenoemde woorde absoluut beaam! Maklik was die jaar beslis nie en baie aardse besittings het in die slag gebly. Al die “china ware” is hoog gebêre, die kombuiskaste se knoppe bestaan so te sê nie, al die hoeke is rond gekou, drade is afgekou, plante is verwoes, ek en Manlief is van tafel en bed geskei. Van bed – want Madampie slaap by ons op die bed en met gebrek aan spasie het ek toe maar my intrek op die ander bed in die kamer geneem en van tafel – want ek eet alleen met hond vasgemaak by my voete, anders kry nie een sy kos in soos daar agter haar aangehardloop moet word nie.


Maar sy het al soveel plesier gebring en sy het die hele gesin in die sak en gelukkig is Manlief – ek dink- nog liewer vir haar as wat ek is. En sy het ons al soveel laat lag! En die bulliebybel meen hulle is net die eerste 18 maande so erg.

Ek sal hierdie tipe honde egter nie vir enige een aanbeveel nie. Jy moet Job se geduld hê, ‘n baby sitter is ‘n absolute moet, want die oomblik as hulle alleen gelaat word, tree hulle afbrekende gedrag na vore, moenie te geheg aan jou aardse goed wees nie en weet maar, hulle kos en veearts rekeninge gaan hoog wees!

Hulle is regte couch potatoes.
maar hulle wil tog elke dag ‘n rukkie gaan speel of stap.

En hulle is sterk – hulle sleep jou waar hulle wil wees. Opleiding en gehoorsaamheid en ‘n ystersterk leiband is ‘n moet!
MAAR die absolute liefde en aanbidding wat jy van hierdie honde kry, is onbeskryflik. Die meeste mense is doodbang vir hierdie honde met hul skrefiesoë, maar dit is heeltemal onnodig. Hulle is die liefdevolste honde wat daar is en geen ander hond het jou lief soos wat ‘n Bullie jou lief het nie! En hulle sal jou beskerm met hul lewens.
Hulle sit of lê nie by jou nie – hulle wil bo-op jou wees.
As jy iets doen, wil hulle sien wat jy doen!

Hierdie honde is net die dierbaarheid vanself!
Daar is buiten die wittes ook swartes
en bruines
en die brindle kleur


HULLE IS …….”THE MOST BEAUTIFUL UGLY DOGS ” OP DIE PLANEET!!!!!

Hier is my varkie, Schabbers, die dag toe ons haar gekry het (6 weke oud)
en so lyk sy vandag – een jaar later met haar verjaarsdagstrik

Bull Terriers – spesiale honde vir spesiale mense.